ONS STORIE

‘n Aktiwiteit waarvoor beswaarlik motivering nodig was, was die Affie Wildsfees wat sy ontstaan met groot sukses in 1993, op voorstel van me. Aryna Edwards gehad het. Die eerste Wildsfees is in samewerking met Pretoria Rugbyklub op die klub se terrein met ongeveer 1 400 geesdriftiges aangebied.

Mnr. Jan Pretorius (hoofseun van 1959) proe aan geregte by die tafel vir eksotiese geregte by die Affie-wildsfees van 1993

Mnr. Jan Pretorius (hoofseun van 1959) proe aan geregte by die tafel vir eksotiese geregte by die Affie Wildsfees van 1993

KOOP JOU KAARTJIE NOU

TYDLYN

Image
1993

Affie Wildsfees wat sy ontstaan met groot sukses in 1993 gehad, op voorstel van me. Aryna Edwards. Die eerste Wildsfees is in samewerking met Pretoria Rugbyklub op die klub se terrein met ongeveer 1 400 geesdriftiges aangebied.

Image
1994

In 1994 het die klub nie kans gesien om die projek voort te sit nie. AHMP het die uitnodiging aanvaar om by die projek in te skakel, waarna die projek onder die leiding van me. Alto de Vos aangepak is. Hierna was die Wildsfees ‘n gereelde instelling op die Affie-rugbyveld.

Image
1996 - 1999

Die Affie Wildsfees het in hierdie tydperk onder die bekwame leiding van me. Alto de Vos van krag tot krag gegaan en is jaarliks deur sowat 6 000 mense bygewoon. Dit was een van die grootste Wildsfeeste van sy soort en daarom het ander instansies dikwels by Affies kers opgesteek. AHS se raad was altyd dieselfde: Kry die ouers betrokke!

Image
2000 - 2008

Tussen 2000 en 2008 het me. Alto de Vos haar rol as komiteevoorsitter van die Wildsfees op ‘n uitnemende wyse gespeel, waarna me. Caroline Linde in 2009 hierdie reusetaak op haar geneem het. In hierdie tydperk is sy uit die Affie-personeelgeledere sterk bygestaan deur onder andere dr. Jan Visagie en mnre. Pierre le Roux, Cobus Louw en Francois Deysel. Tussen vyf en ses duisend mense het jaarliks op AHS se B- en C-rugbyvelde bymekaar gekom om die groot, gesellige vure, musiek, stalletjies met interessante uitstallings, pragtig versierde lapas en heerlike wildsdisse te geniet. By die veiling is daar entoesiasties op geskenkte lotte soos jagpakette, wegbreeknaweke en skilderye gebie. Van 2001 af het daar gaskunstenaars opgetree om die gaste nóg meer waarde vir hulle geld te gee. In hierdie jaar kon die feesgangers na Die Grafsteensangers luister, in 2002 Pieter Smith, in 2003 Ahan Fourie en ‘n groep Affie-seuns, naamlik Marius Blomerus, Phillip Marais, Jacques Louw en Carl Meyer, in 2004 Jakkie Louw, in 2006 Robbie Wessels, in 2007 Idol-finaliste, in 2008 Kurt Darren en in 2009 Flip a Coin en MD Greyling.

Image
2010

In 2010 is besluit om graadlapas te skep, in plaas van die gebruiklike klaslapas. Dit het tot gevolg gehad dat die beweegruimte per lapa groter was. Daar was ook tienerlapas, waar elke graad se leerlinge na hartelus kon kuier. Heuwels Fantasties en Bobby van Jaarsveld het die ongeveer 5 000 wildsfeesgaste vermaak.

Image
2012 - 2014

Me. Caroline Linde het tot in 2012 as voorsitter van die wildsfeeskomitee gedien. Sy is opgevolg deur mnr. Ockert Botha (2013 en 2014), waarna me. Cecilia Joubert die leiding geneem het. Affies se personeelskakels in hierdie tydvak was mee. Annelie Pieterse en Petro Janse van Vuuren.

Image
2017

Danksy die skenkings van ouers en die ruim bydraes van borge kon uitgawes tot die minimum beperk word en kon ‘n rekordwins in 2017 aangeteken word.

Image
2018

Die Affie Wildsfees het sy kwarteeuviering in 2018 gehad en soos die vorige 25 jaar was hierdie spanpoging van AHS en AHMP ‘n hoogtepunt op dié twee skole se kalender. Wildsfeeskaartjies was vir die eerste keer slegs aanlyn beskikbaar. Die Heuwels Fantasties het, soos in 2010, jonk en oud op hulle voete gehad.

Image
2019

Die Affie Wildsfees is in 2019 vir die 26ste keer aangebied. Danksy die ruim skenkings van ouers en bydraes van borge is daar hierdie jaar ‘n rekordbedrag ingesamel. Me. Cecilia Joubert was vir vyf jaar die voorsitter van die Wildsfeeskomitee en het haar dekadelange diens as komiteelid hierdie jaar op ’n hoogtepunt afgesluit.

Image
2020

Die 2020 Wildsfees moes vanweë Covid op ’n totaal ander wyse aangebied word en daarom het die komitee onder die voorsitterskap van me. Lizelle Coetzee ’n virtuele produksie aangepak. Alhoewel dit nie aan ouers en leerlinge die geleentheid gebied het om oudergewoonte by die skool te kuier nie, is almal aangemoedig om tuis ‘n braaivleisvuur aan te steek en om die aanlyn produksie ook daar te geniet. Die Affie Virtuele Wildsfees, met verskeie kunstenaars, is op 15 Augustus vanuit die Ben Schoeman Ouditorium gebeeldsend.

Image
2021

As gevolg van Covid-19 kon die jaarlikse Wildsfees nie in 2021 aangebied word nie.

Image
2022

In 2022 kon die Wildsfees weer voortgaan en op 13 Augustus het 6 000 feesgangers hul opwagting gemaak om, onder andere, na die Affie-Artes se Koppekap-wenners te luister, na die regstreekse rugby-uitsending van die Springbokke teen die Kiwi’s te kyk, te bie in die veiling en na die vertonings van Early B en Die Heuwels Fantasties te kyk. Die pretpark is deurentyd druk deur die jongspan besoek. Die wildsfeeskomitee, onder die leiding van me. Lizelle Coetzee het ‘n reusetaak aangepak, wat duidelik geblyk het uit die skaal van produkte wat hanteer is, byvoorbeeld 4,6 ton wildsvleis en 4,6 ton groente en vrugte wat verwerk is asook 560 dosyn koeksisters.

Image
2023

Die reusesukses van Wildsfees 2023 is te danke aan elke lojale Affie-ouer. Dit alles het onder leiding van Me Lizelle Coetzee wat as voorsitter van die Wildsfeeskomitee gedien het, plaasgevind. Affies bedank haar vir haar deursettingsvermoë en bekwame leiding vanaf 2020 tot 2023.

Image
2024

Mione Snyman word aangekondig as die nuwe voorsitter van die Affie Wildsfees. Geskiedenis word ook gemaak deur die hele Wildsfees te skuif na Loftus Versveld. Met meer as 8000 feesgangers wat op Loftus se B-, C- en D-veld teenwoordig was het die musiek van Chris Streyn (Oud-Affie), Snotkop en Bok van Blerk terdeë geniet. Dit is ook die eerste jaar dat beide skole se personeel hulle eie lapa gehad het. Die grootste bedrag nog tot op datum ingesamel.

This site uses cookies

We use cookies to enhance your user experience